Ons visie
Ons missie-verklaring lui: "Jy is nie alleen nie. Kom ons maak saam 'n verskil". Dit beskryf ons as 'n gemeenskap van vriende wat God liefhet, mekaar liefhet en begeer om ons wêreld radikaal aan te raak en te verander. In die uitlewing van ons roeping van die Here, wil ons:
Radikaal wees;
Relevant wees;
Eg wees en
Verhoudingsgerig wees.
'n Deeglike studie van die Bybel van Genesis tot Openbaring toon dat die Here radikaal is en ingestel is op verhoudinge. As 'n gemeente is dit ons kernvisie om elke gemeentelid te sien en help groei tot volwassenheid in sy/haar verhouding met die Here. Dit bring dan 'n gesonde, sterk en relevante kerk te weë wat 'n verskil in die gemeenskap kan maak. Ons wil Christene oprig om in hulle volle potentiaal in te beweeg en hulle visies ten volle te kan uitleef.
Ons is sekerlik nie 'n organisasie nie, ook nie 'n besigheid of 'n institusie nie. In die werklikheid van verhoudinge, is ons 'n familie wat strewe om hierdie ethos uit te leef in 'n alledaagse, maar eerlike benadering tot ons geloof.
Soos elke huis 'n unieke atmosfeer en karakter het, so het Die Akker Christelike Kerk 'n karakter wat beide Christelik is in sy algemene toepassing maar ook relevant is sy unieke atmosfeer en karakter.
Ons waardes en werkstuie
Ons waardes en werkstuie kan die beste opgesom word soos volg:
Verhouding voor funksie;
Karakter voor charisma (gawes van die Gees/salwing);
Realiteit bo ritueel;
Seuns en dogters eerder as diensknegte;
Aanbidders en nie net werkers nie;
Verantwoordbaarheid voor profiel/aansien;
Gee eerder as om te ontvang; en
Gaan eerder as om te bly.
Hierdie waardes in hulle suiwer vorm verteenwoordig ons begeerte om 'n Nuwe Testamentiese gemeenskap uit te leef. Dit is van kardinale belang dat ons die toepassing van ons geloofsoortuiginge vind binne die grense van hierdie waardes. Dit voeg eerlikheid en deursigtiglikheid tot ons leierskap en help ons om die plesier en vreugdes van 'n egte Christelike gemeenskap te ontdek.