In 2011 het my lewe en klerekas ‘n omwenteling ondergaan. Ek het tot die insig gekom dat my lewe net heeltemal te veel ‘clutter’ het en het begin om my lewe te ‘declutter’. Die uitvloei daarvan was dat ek omtrent 80% van my kas uitgegooi het en toe skielik gedink het – wat maak ek hiermee… en so is Die Akker se declutter dag gebore” – Liesl Maré.

Die begindroom was dat ons almal in ons klein gemeenskappie hulle kaste en lewens declutter- en omdat ons almal daarvan hou om te gee en te ontvang het ons ‘n dag gereël waarop almal hul clutter kon kom aflaai.  Die Akker span het die hele Saterdag oggend klere uitgepak, gesorteer en opgehang; die reaksie was verstommend.

Die hoeveelheid ‘goed’ wat ons kon declutter, amper oorweldigend. Teen die middag kon mense wat gegee het ,en dié wat hulle genooi het, verniet kom ‘koop’. Ons was skrikkerig dat ons niks sou oorhê om weg te gee nie – maar daar was steeds massas ‘goed’ oor. En skielik het ons gesien hoe dit uitbrei en groei – vrouens veral het meer begin weggee.

Meeste van ons dra omtrent net 20% van wat in ons kaste is. Ons gaar op vir wanneer ons eendag weer in daardie en daardie rok of broek gaan pas…en so ‘clutter’ dit ons lewens. Ons wil dit nie net weggee nie want dis nog ‘in so ‘n goeie toestand’. Sodoende koop ons elke jaar nog ‘goed’ by en die kaste word net al hoe voller – en die oplossing is verhuring van ekstra stoorplek!

Die gedagte agter de-clutter dag, was om mense aan te moedig om kaste leeg te maak – wat jy nie meer gebruik nie is werklik vir ‘n ander persoon ‘n fonds. Die mees vervullende deel van die dag was as ‘n persoon iets kon kry wat hulle lankal wou hê. Iets wat hulle hart bly maak.

Omdat die dinamiek oor die jare by die Akker so bietjie verander het, word die meeste van die ‘goed’ wat inkom deur die span gesorteer en word dan verpak vir spesifieke organisasies – weeshuise, die Street Store projek, kerke, Ry-Ma-In ens.

Liesl se hart en wens vir die de-clutter dag is om ‘n wyer gemeenskap te kan bereik en te betrek. Dat die Akker die middelman sal wees wat sorteer, verpak en gaan aflaai waar dit nodig is. En harte gelukkig maak met ‘goed’ wat nuwe holtes vind waar leemtes is.