Bitterheid (Adéle van der Walt)
Bitterheid byt jou twee keer… nee, eintlik sommer drie, vier, vyf maal … Dit gebeur die eerste keer as iemand jou skade aandoen; die tweede keer as jy dit onthou; die derde keer as jy met woede daaraan terugdink en die vyfde en twintigste keer as jy dit nogmaals in jou kop herhaal. Of dit dalk vir die dertigste keer oorvertel. Bitterheid is ‘n bitter swaar vrag wat jy saam met jou sleep. Bitterheid maak van ‘n mens ‘n onvrye persoon, dit skep in jou gemoed ‘n doodsheid. Jy word ‘n dor mens.
Bitterheid maak jou ‘n slaaf van diegene wat jou benadeel het. Jy verander in hulle slagoffer. Dalk het hulle al lankal vergeet van die seer wat hulle jou veroorsaak het. Moontlik skeel dit hulle min. Maar jyself loop vir jare met ‘n stuk donkerte in jou hart wat nooit wil weggaan nie. Dit alles omdat jy dieselfde bitter gevoelens deur jou kop hersirkuleer. Bitterheid is so erg omdat dit self-vernietigend is. Om die woede saam met jou te dra hou ‘n fokus op die verlede en verhinder jou van die pad wat God voor jou neergelê het.
Bitterheid is so ‘n sweer in ons tyd dat sommige kliniese sielkundiges al daarvoor pleit dat dit as ‘n geestessiekte gediagnoseer behoort te word.
Adéle gesels met ons oor Bitterheid, wat dit aan ‘n mens en jou verhoudings, en selfs jou gesondheid, doen. Hoe breek jy bitterheid en kom jy vry van hierdie swaar las?