Ek weet ek kan, so ek wil God sien (Siegfried Maré)
In ons seeing is believing wêreld word ons baie keer konfronteer met die vraag: hoe glo jy in iets of Iemand wat jy nie kan sien nie? Martin Luther se antwoord op hierdie vraag was: Geloof is om dieper te kyk as wat jou oë kan sien en dié dinge raak te sien wat jy nog nie met jou gewone oog kan sien nie. Terselfdertyd is dit om die dinge wat jy met jou gewone oë sien, mis te kyk, daarby verby te kyk en dieper te kan sien, tot by God te kan sien.
Wanneer ons oë oopgaan sien ons dinge soos dit werklik is. Ons sien God soos Hy werklik is, en dan verloor die leuens van hierdie wêreld hulle krag oor ons.
Maar dit gebeur nie net met ongelowiges dat hulle iewers vir God miskyk nie. Dit kan met ons ook gebeur. En dit is ‘n gevaarlike plek om te wees. In Heb 12:14 staan daar: “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie.”
Siegfried gesels met ons oor ‘Ek weet ek kan, so ek wil God sien’. Ons kuier in Openbaring waar Johannes met ons deel hoe hy God gesien het.