Die Kruis: Deel 3 – Die Kruis in alle omstandighede (Jaco van der Walt)

Die storie tot dusver: Paulus is aan die woord in die boek Galásiërs. Hy is omgekrap met die klomp Galásiërs omdat hulle toegelaat het dat gewoontes en tradisies hulle vasketting en wegrokkel van die ware, vrymakende waarheid van die Kruis. In Galásiërs 2 kom Paulus egter in ‘n openlike konfrontasie te staan met iemand vanuit sy eie ranks, iemand wat veronderstel was om van beter te weet: die dissipel Petrus. Paulus vertel hoe Petrus die Kerk in Antiogië besoek en deel geraak het van die groepie Christene. Hy het gedoen soos hulle gedoen het en geëet wat hulle geëet het om te bewys dat almal voor God dieselfde is. Dit het goed gegaan…totdat daar ’n klomp Joodse Christene opgedaag het. Ewe skielik het Petrus nou nie meer saam met die nie-Joodse Christene geëet nie. Was hy bang vir die reaksie van die Joodse Christene? Was hy bang oor die stories wat hulle sou aandra oor hoekom hy wat ’n Jood is, met die nie-Jode meng?

Dalk het Petrus so opgetree om nie aanstoot te gee en die Joodse Christene ongemaklik te laat voel nie. Dalk het hy in alle opregtheid probeer om almal tevrede te stel en so min as moontlik branders te maak. Of was hy dalk huiwerig oor die einste saak waarvoor hy staan?

Maar in die gewik en weeg tussen wat God hom geleer het en wat die mense se reaksie gaan wees, het hy meer skade as goed aangerig. Sy optrede het ’n verdeeldheid onder die gemeente gebring en twee verskillende groepies is gevorm. Daarom word hy deur Paulus oor die kole gehaal. Paulus wys hom vinnig en hard tereg deur hom te herinner dat die onderhouding van die reëls en regulasies van die wet nie die mense se verlossing kan bewerk nie. Die fokus lê nie by wat ons moet doen nie, maar juis oor wat Jesus vir ons gedoen het. Dít is die middelpunt.

Ander kyk na ons vir leiding. Daarom is dit belangrik dat ons altyd sal seker maak dat die manier waarop ons leef en optree, in alle omstandighede, God se manier is.

Jaco gesels met ons oor Die Kruis in alle omstandighede; die derde deel in ons reeks oor Die Kruis.