Die Vas: Deel 5 – Die Koninkryk (Siegfried Maré)
En so verlaat Jesus Sy wildernis met ‘n plan; gefokus en met liefdevolle bemoediging en toerusting van Sy Vader, reg vir die taak waarvoor God Hom gestuur het. Dit was ‘n baie eenvoudige plan. Sy visie was om die las van sonde van mense te kom wegvat. Dít sou Hy op Sy eie doen. Tog het Hy nodig gehad om die nuus uit te kry, moes dit voortbestaan na Hy opvaar. Met die uitbreiding van God se Koninkryk het Hy dissipels nodig gehad. En deel van die plan was om 12 mense uit te kies om saam met Hom die pad te stap, te leer en dit vorentoe te vat. Soos ’n man met ’n plan stap Jesus reguit na twee vissermanne en sonder om te blik of te bloos sê Hy: ”Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak.” En sonder om self te blik of te bloos, gooi Petrus en Andréas hul nette net daar neer en volg vir Jesus. Impulsief en bietjie weird? Miskien. Verstommend? Beslis. Maar net daar gaan Jesus se plan oor in aksie. Ons almal ken die verhaal van Jesus en sy 12 dissipels. Sy plan het gewerk. Die invloed wat die 12 dissipels op die samelewing gehad het, was verstommend.
Maar Jesus se plan is nog nie voltooi nie, die dissipels moet bly dissipels maak- sodat die boodskap kan voortgaan. Die visie het nie verander nie. Die opdrag is nog steeds om God se Koninkryk hier op aarde uit te brei. Sy plan eindig eers aan die einde van die wêreld as Hy weer kom. En so, tydens ons ‘wildernistydperk’ van vas, is dit asof Jesus elkeen van ons liggies skud en sê; “Hey, kom by. Staan op! Jy is deel van My plan om My Vader se koninkryk nog groter te maak. Moenie opgee nie. Dit gaan oor lewe en dood. Hou aan, hardloop die wedloop getrou en bring ander saam. Kom nou! Doen jou werk.” En, net soos Jesus se lewe getuig, gaan dit nie noodwendig ‘n maklike taak wees nie. Maar met die liefdevolle bemoediging en toerusting van Vader, Sy beloftes, Heilige Gees wat elke tree met jou stap, en Jesus wat kláár die oorwinning behaal het…sjoe julle, is daar ‘n ander opsie as om JA! te sê?
In hierdie laaste deel van sy reeks oor Vas, kyk Siegfried na “My Vas en die Koninkryk van God”. Kom ons maak saam ‘n verbintenis om mense in die donkerte te gaan help, mense wat in die modder vasgeval het te gaan uitsleep, om ons moue op te rol en te help met die uitbreiding van ons God se Koninkryk.