Eendag…lank, lank gelede (Siegfried Maré)
By Woensdagaand Kerk deel Helena die volgende visie: sy sien ‘n papierkoppie, vol gate gedruk. Nogal ‘n useless ding, so ‘n papierkoppie vol gate…want soos die water daarin vloei, stroom dit by al die gate uit. Die Woord wat Helena kry is dat baie van ons soos daai koppie voel – omstandighede, sonde, ander mense en sommer net die lewe self het ons al so vol gate gedruk, en ons voel useless. Maar wanneer die lewegewende stroom van Jesus deur ons vloei, maak hy nie net al ons gate met Sy stroom van liefde en genade toe nie, Hy laat ons koppie óórloop, en meer nog, Hy gebruik die gate in ons lewe om lewe na ander om ons te laat vloei. Solank ons net onder Sy stroom bly.
Werk dit nie maar so met ons stories ook nie…ons voel baie keer of ons verhaal so gebroke en vol gate is, dat dit useless is vir enigiemand wat daarna luister. Sommige van ons voel of ons stories so boring is, dat al moontlike effek wat dit kan hê, ‘n paar lang gape is. Ander van ons se stories behoort met ‘n ouderdomsbeperking te kom. Maar hier is die ding: ons storie is nie ‘n verhaal oor hoe goed ons is of hoe sleg ons was nie, ons stories is verhale van hoe goed God is. My getuienis was nooit veronderstel om ‘n verhaal oor my, my swakhede of my prestasies te wees nie; my getuienis is ‘n verhaal oor God en hoe ek deel geword het van Sy verhaal. Jou storie spreek van die goedheid van God. Hy was nog altyd goed; Hy is goed; en Hy sal vir ewig goed wees.
Geen storie het nié krag nie.
Geen storie is té gering nie.
Élke storie maak saak.
Solank dit real bly en gefokus bly op Jesus.
Ons kan nie ons stories vir onsself hou nie, want ons het mekaar se stories so nodig soos nagmaalsbrood. Jou storie kan die brug wees van iemand se hart na Jesus. En dink net aan die vreugde wat jy eendag gaan ervaar wanneer jy die mense in die hemel opspoor en ontdek hoe jou verhaal met hulle s’n vervleg het!
Siegfried het verlede week gesels oor die boublokke van ons stories – die week kyk hy na hoekom ons ons stories moet vertel.