Ek is wie U sê ek is (Adéle van der Walt)
Deel 1: In WIE lê my identiteit?
Die meeste van ons sit een of ander tyd met ‘n identiteitskrisis. Wie is ek? Wie wil ek wees? Soos wíé wil ek wees? Wat sou ek verander as ek kan? Hoekom worry ek so baie oor wat ander mense van my sê, of wat hulle nie sê nie? Dit word met tye nogal moeilik om ons eie waarde en identiteit raak te sien, veral wanneer ons deur die verkeerde oë na onsself kyk. En dan die alewige gedagtes wat ons pootjie…ek maak darem net té veel droog vir God om eers na my kant toe te kyk.
Maar weet jy wat? Ek en jy het soveel waarde! Hoe is dit moontlik? Dis Jesus wat dit moontlik gemaak het. Hy gee aan ons nuwe waarde en ‘n splinternuwe identiteit, en daarom kyk God met sagte oë na ons. God sien ons raak. Régtig raak. Hy ag ons hoog. Elkeen van ons is die appel van Sy oog. Ons is wie HY sê ons is, en ons hoef NIKS ekstra te doen om God se aandag te trek nie. Jesus se bloed het ons vrygespreek sodat ons opnuut kosbaar en waardevol in God se oë kan wees. Dis hoe God na ons kyk…met sagte oë, en Hy wil so graag hê dat jy deur SY sagte oë na jouself kyk. Jy ís waardevol vir Hom; en dít is jou identiteit.
In hierdie eerste deel van haar boodskap, gesels Adéle met ons oor “In WIE lê my identiteit?”, en ons word gekonfronteer met die vraag; “is my identiteit in mense en hul opinies, of in Christus en wat die Woord sê?”