For I Know… (Siegfried Maré)

Het jy geweet daar is ‘n boek oor jou lewe geskryf? God het dit al geskryf nog voor jy eens ‘n spikkeltjie in jou ma en pa se gedagtes was!

Psalm 139:16 U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.

Wat ‘n verbysterende gedagte! Al my lewensdae is in die boek opgeskrywe. Selfs meer oorweldigend – nie net al my dae nie, maar elke uur, elke oomblik. Beteken dit God het ‘n bloudruk-plan van my lewe? Nee, die wonderlike ding is: dit beteken dat my lewe soos ’n oop boek voor God lê. Die boek van jou lewe en jou lewensstorie lê oop omdat jy nog daagliks self besig is om die storielyn in te skryf. Ons weet en glo dat God se plan vir ons goed is; ons is almal vertroud met die vers in Jeremia 29; ”For I know the plans I have for you,” declares the Lord, plans to prosper you and not to harm you, plans to give you hope and a future.” Die groot MAAR is dat ons dikwels so ywerig skryf aan die lewensstorie wat ons dink God se storie vir ons is…dat ons God se eintlike plan heeltemal mis. En die enkele grootste rede hiervoor is omdat ons ons nie wend na Die Een wat die boek van ons lewe in Sy hande vashou nie. Ons vra nie Sy raad nie, en uit die aard van die saak kan ons dit dan ook nie volg nie. En dan realiseer die goeie plan wat Hy vir ons het eenvoudig nie. Want daar staan ook verder in Jeremia geskryf: “Then you will call on me and come and pray to me, and I will listen to you. You will seek me and find me when you seek me with all your heart.”    

Dank God vir Sy plan. Die plan van Sy ewige teenwoordigheid, die Heilige Gees wat ons lei. Dank die Here dat Hy jou ken, dank die Here dat Hy jou hoor, dat Hy jou storie saam met jou skryf. Dank die Here dat Hy reageer elke keer wanneer ons vra – maar, ons móét vra, tot ons eie beswil.