Gawes in aksie (Siegfried Maré)

Soms het ons almal ‘n ligte stampie in die regte rigting nodig. ‘n Skop op die regte plek. Paulus was goed daarmee om stampies en skoppe uit te deel. Op ons journey sover saam met die Tessaloniërs, sien ons dat ons gawes eintlik soos die dele van ’n liggaam werk. Vir die liggaam van Christus om lekker te werk, moet elke deeltjie sy kant bring, anders malfunction dinge. God vra vir jou om jou gawe in Sy Koninkryk te gebruik. Jip, dis eintlik ’n opdrag. Maar, ons is almal skuldig daaraan dat ons ons gawes hier en daar onder die emmer wegsteek – nou het dit tyd geword om hulle uit te haal, af te stof en te gebruik om ’n impak in die wêreld te maak.

Paulus was nie ’n bo-natuurlike wese nie. Hy was ’n gewone mens soos ek en jy. ’n Mens vol sonde. God het hom egter omgedraai. En Paulus? Hy laat toe dat sy lewe die speelveld van die Heilige Gees en Sy Gawes word. Dit is die Heilige Gees Gawes in hom wat al die groot goeters in die Koninkryk van God reggekry het. Maar net soos Paulus moet ons ook ‘n ‘Just do it’ oortuiging hê – ons moet tot aksie oorgaan.

In hierdie volgende deel van ons Gawes-reeks, kyk ons na die ‘Just do it’ deel – wat het ons nodig om tot aksie oor te gaan en plekkies te gaan soek om ons gawes uit te leef? Dink net…as ons almal dit doen, sal die wêreld anders lyk. Dán sal die liggaam van Christus gesond wees.