Geloof is ‘n werkwoord (Siegfried Maré)
Stel jou die volgende voor: ’n klein militêre kamp kyk uit oor ’n uitgedroogde, rotsagtige landskap. Die Filistynse soldate in die kamp sien iets in die verte wat hulle aandag trek: hulle kan duidelik twee Israelitiese mans aan die ander kant van die kloof sien staan. Vir die soldate is dit ’n groot grap — hulle sien geen gevaar nie. Die Filistyne oorheers die Israeliete al ’n lang tyd. Selfs al is hulle gewapende soldate, wat kan hulle nou eintlik doen? Hulle is net twee mans! Die Filistyne kan nou sien dat die man wat voor hardloop, gewapen is, en sy wapendraer is kort op sy hakke. Is hierdie man en sy wapendraer regtig van plan om hierdie hele groep soldate aan te val?! Is die man dan mal?! Nee, hy was nie mal nie, hy was ’n man van sterk geloof. Sy naam was Jónatan, en sy verhaal het baie lesse vir ons oor geloof wat oorgaan in aksie.
Jónatan waag ‘n avontuur met God. Sonder om te huiwer neem hy die grootste risiko van sy lewe – een wat hom sy lewe kan kos. Sy besluit word nie deur menslike oorwegings bepaal nie. Hy vertrou totaal en alleen op God. Dit is duidelik dat Jónatan sy God goed geken het. Hy het goed geweet dat God in die verlede Sy mense gehelp het om hulle vyande wat baie meer as hulle was, te oorwin. En hy het geweet “by die Here is daar geen verhindering om deur baie of deur min te verlos nie” (1 Samuel 14:6)
Vreemde ding, hierdie geloof storie. Niks maak sin as mens met menslike oë hierna kyk nie. Twee manne wat twintig man oorwin – en vir ‘n nasie ‘n ‘bonatuurlike’ oorwinning bring. Maar dit is ‘n storie waar geloof ‘n werkwoord word.
Siegfried kyk na Jónatan se storie van “Geloof in aksie” en hoe ons dit in ons eie lewe prakties kan toepas.