Die Vas: Deel 4 – God se Wil (Siegfried Maré)

Kom ons gee die duiwel maar nou die bietjie krediet, hy weet waar om iemand te slaan. Hy weet presies waar die swak plek in die mondering is en dit is presies die plek waar hy deur jou mondering sal probeer bars. Daar in die wildernis, toe Jesus nou op Sy hongerste was, kom fluister die duiwel hier in Sy oor en probeer hy als om deur Jesus se mondering te bars. Dit is presies waar hy vir Jesus slaan, daar waar die hongerpyne kliphard skree. Maar Jesus trap nie in die gat nie. Jesus sien dwarsdeur die duiwel se planne, maar meer nog: Hy bly getrou aan die opdrag en wil van Sy Vader. En die duiwel dop die toets – drie nul vir Jesus! Jesus onderwerp deur hierdie hele woestyn ondervinding Sy wil aan God se wil. Net soos wat Hy dwarsdeur Sy bestaan op aarde gedoen het. Sy verhouding met God was reg. Hy was die heeltyd ingestel op God. Hy het altyd gedoen wat reg was in God se oë en elke tree binne Sy wil gestap. Without fail.

En net soos wat ’n dorstige persoon in die woestyn net begaan is daaroor om water in die hande te kry, behoort ons alles in die stryd te werp om die Here “in die hande te kry”, om meer van Hom te weet, om ’n dieper belewenis van Sy teenwoordigheid te hê, om honger daarvoor te wees om Hóm die eerste en belangrikste plek in ons gedagtes, begeertes, planne en keuses te maak. Om binne Sy wil te stap, net soos wat Jesus gedoen het. Dit klink soos ‘n tall order en kom ons wees maar eerlik, ons duik baie keer in die hek vas. Die duiwel is ’n werklikheid in die lewe en as hy die guts het om selfs vir Jesus te tempteer, gaan hy dit sekerlik ook met jou en my kom doen. Die verleier gaan jou probeer vang met ‘n slap riem, hy sal selfs God se Woord subtiel verdraai om deur jou mondering te bars. Maar lees en kén God se Woord, soek Sy wil, bly getrou aan Sy opdragte, en verklaar met jou lewe en jou lippe – U is my God en vir U alléén sal ek dien! Dan kán die duiwel net die toets dop.

Siegfried gesels met ons oor die derde boublok van vas; Vas en die wil van die Here; hoe my vas bevestig Wie ek dien en wat ek worship.