In Jesus se Voetspore (Liesl Maré)

Voetspore. Die sigbare merke wat dag vir dag verklap waar ons was. Voetspore in die grond, voetspore in die lewe, merke wat ons agterlaat, soms goeies, soms slegtes. En dan natuurlik die voetspore van ander voor ons. Sommige lank terug, sommige sommer onlangs. Agter wie stap ek en jy aan? Vir wie volg ons? Loop ons op goeie spore of slegte spore? Is ons in die regte rigting op pad?
Terwyl Jesus op aarde was, was Hy die lewende voorbeeld van Iemand wat lewe soos God vra. Sy liefde vir, Sy gehoorsaamheid aan, en Sy vertroue op Sy hemelse Vader was in alles wat Hy gedoen het sigbaar. Hy het God se liefde vir mense demonstreer in Sy eie omgee-liefde vir elke mens met wie Hy in aanraking gekom het. Hy wou almal help, het almal met simpatie en empatie behandel, en vir almal Sy onvoorwaardelike vergifnis aangebied. Met alles wat Hy gedoen het, was Hy gehoorsaam aan die opdrag wat Hy van God gekry het – om die boodskap van verlossing op aarde uit te dra.
Jesus se spore is baie duidelik, dis diep getrap in die samelewing. Die diepste herkenbare spoor is die kruis – ons baken. Daar op die kruis het Hy die diepste spoor denkbaar getrap. Daar waar die Satan vertrap is. Daar op die kruis het Jesus die sleutel gelos vir ons pad hemel toe. Maar Jesus se spore stop nie by die kruis nie, want Hy het opgestaan. Sy spore gaan tot in die hemel. En ons spore gaan of dáár stop, of in die verderf. John Eldredge het gesê; “Only by walking with God can we hope to find the path that leads to life. That is what it means to be a disciple. After all – aren’t we ‘followers of Christ’? Then by all means, let’s actually follow him. Not ideas about Him. Not just His principles. Him.”
As ons agter Jesus aanstap, kan ons net op die regte plek beland. Dan kan ander maar gerus agter ons aanstap, want dan loop ons spore nie vreemde of slegte draaie nie.