Leeu van Geloof (Siegfried Maré)
Damaskus-ervaring. Tot vandag toe, as mense wil verwys na ‘n bekering of ‘n lewensveranderende gebeurtenis, sal hulle praat van ‘n Damaskus-ervaring. Die storie in die Handelinge 9 van Paulus se bekering is werklik aangrypend. Mens wonder wat tydens daardie 3 dae in Damaskus deur Paulus se kop gegaan het – hy was blind; het niks geëet, niks gedrink nie. Nugter denke sê hy moes sekerlik vreesbevange gewees het toe hy uiteindelik tot die insig kom dat hy sy lewe daaraan toegewy het om die SEUN van God te vervolg. Want alles wat Saulus gedink het hy weet van God, alles waarvan Saulus so vas oortuig was, is nou op sy kop gekeer en deurmekaar gekrap deur Jesus se woorde: “Waarom vervolg jy My?” Sy verdiende loon was om deur ‘n weerligstraal vanuit die Hemel getref te word. Maar nee, een van die verrassendste dele van die verhaal, is dat Paulus nie in sak en as gaan sit het nie – inteendeel! Toe hy daar opstaan, word hy die Leeu van Geloof. Niks sou weer dieselfde wees nie. Met dieselfde passie, ywer en boldness waarmee Saulus die ekstra myl geloop het om die volgelinge van Jesus te vervolg, met daardie selfde boldness têkkel hy met vrymoedigheid sy roeping om die goeie nuus van Jesus te verkondig en met blymoedigheid vervolging en lyding ter wille van die Evangelie te aanvaar.
“Ons noem hierdie gebeurtenis ’n bekering”, skryf NT Wright, “maar dit was meer soos ’n vulkaniese uitbarsting, ’n donderstorm en ’n getygolf wat kragte saamsnoer. Indien die dood en opstanding van Jesus die skarnier was waarop die groot deur van die geskiedenis oopgeswaai het, was die bekering van Saulus van Tarsus die moment toe al die beloftes van God saamgebundel is, hulself in ’n groot bal opgewen het, en deur daardie oop deur in die wye wêreld uitgebars het”.
Hoe het dit gekom dat Paulus met soveel boldness, geloof en guts in die wye wêreld kon uitbars om die Evangelie te verkondig?