Liefde (Siegfried Maré)
“Ons het twee lewens, en die tweede een begin wanneer jy agterkom jy het net een lewe.” Iemand baie wys het dit eendag gesê. En so werk dit met ons ook – wanneer ons daai ‘Saint’ ligkringetjie op ons koppe sit en die on switch druk, kom jy agter dat daar regtig net een lewe vir jou is – en dit is een waarin jy jou álles gee om God te behaag. En hoe behaag ons God? Deur lief te wees. Vir Hom. Vir mekaar. En ja, selfs vir daai een wat jy dalk dink ‘not worthy’ is. Daai EGR’s…Extra Grace Required mense. Paulus het daai een goed verstaan…want vir ‘n baie lang tyd was hy die een wat ‘not worthy’ en die EGR was, in wêreldse terme. Maar Jesus het hom liefgehad. So lief, dat Hy sy lewe vir hom gegee het. Ja, selfs vir hom.
Die verskil tussen ‘n veilige en ‘n heilige lewenswedloop is een letter. God roep ons tot ‘n heilige lewe. Ons menslike natuur noop ons baie keer om nie te veel in die naam van liefde te wil waag nie. Ons almal duik in die hek in met daai een. Maar God se hart huppel wanneer liefde die fondasie van ons doen en late word. Wanneer liefde die kompas word wat ons op ons pad na heiligheid laat loop. Wanneer ons die heilige pad kies in plaas van die veilige een. Want sonder liefde…het ons niks.
Liefde moet ons alles wees.
Mag die stukkie wêreld waar ek woon, anders lyk omdat God se liefde deur my hande en voete gevloei het.