My planne en God (Siegfried Maré)
I love it when a plan comes together. Sonder om nou ouderdomme weg te gee, onthou meeste van ons seker nog dié punch line van The A-Team se Hannibal Smith uit die 1980s. Dan was daar MacGyver…gee net vir hom ‘n knipmes, ‘n draadjie en ‘n stukkie foelie en hy kon bykans enige ding reg maak – dáár was nou vir jou ‘n man met ‘n plan. En arme ou Coyote, altyd vol blink planne om Beep-Beep Road Runner te vang, maar beland gewoonlik met sy dinges binne-in sy eie dikkedensie (gaan Google maar, dit is ‘n woord). Planne, drome, ideale. In hoeveel sinne en gedagtes hoor ons nie die woorde “ek dink ek gaan” of “ek wil graag” nie. Dit is tog so ’n unieke mens-ding, is dit nie? Om te droom, om te beplan, om vooruit te dink, om ‘n plan te maak (veral as jy ‘n boer is). Dit is deel van wie ons is, wat ons dryf, wat ons menslik maak. Maar soms wanneer ons die pad van die lewe stap, word alles tot stilstand geroep soos die pause-knoppie van jou afstandsbeheer wat vashaak, en dan wil ons ons speelgoed uit die kot gooi omdat dinge nie verloop soos wat ons dit beplan het nie.
Die waarheid is, planne en drome is goed, dis deel van ons menswees, maar dit moet uit die regte plek gebou word. Ons planne is nie ‘n toeskouersport waar God buite staan en inkyk, maar nooit deel word van ons game plan nie.
Wat is ons vertrekpunt, ons fondasie, ons belangrikste dryfveer?
Siegfried kyk bietjie na hierdie vraag en gesels met ons oor My planne en God; hoe God IN ons planne moet wees, en wat ons kan verwag wanneer Hy is.