‘n Gebed wat jou lewe kan verander (Siegfried Maré)

“If you are a stranger to prayer, you are a stranger to the greatest source of power known to human beings.” Billy Sunday

Ken jy die storie van die muis wat saam met die olifant oor die brug gestap het? Toe die muis opkyk na die olifant, sê hy met so ’n groot smile: “Kyk hoe lekker laat ons nou die brug bewe”. Weet jy dat jy dieselfde kan doen, as jy net genoeg bid? Dít is die wonderbare krag van gebed – een van die kragtigste instrumente wat God aan ons mense geskenk het. Gebed is die plek waar God hoor en waar Hy dinge laat gebeur. Gebed is die plek waar ons rêrig vir mekaar omgee. Dis die plek waar ons eerlik kan wees en al word daar net gemompel, verstaan God alles. Hy ken die bedoeling van ons hart. Ons moet meer bid. Ons het dit nodig.

En dan hoor mens ’n ou sê: “Hoekom is dit nodig om so te bid? God weet tog reeds alles. Wat gaan gebed verander?” Jy mis die punt, ou. Die mens verander wanneer hy of sy bid, want die mens stap anders na gebed uit as wat hy of sy daar ingestap het.

Ons moenie ophou bid nie. Bid die hele dag. Vir elke liewe dingetjie! Nie net wanneer die paw-paw die fan strike nie. Moenie ophou bid vir jou gesin, vir jou vriende, vir die vreemdes en die swakkes en ook vir jou vyande nie. Dan sál ons dade ’n groter impak hê, dan sál lewens verander, en dan sál God se verlossingsboodskap soos ’n veldbrand versprei.

Leef, soos daardie muis, met gebed soos ‘n olifant aan jou sy, en sien hoe jy ook brûe laat bewe!