‘n Jesus lewe (Siegfried Maré)
Paulus was ’n gewone mens met ’n roeping wat ongewone dinge reggekry het, omdat hy toegelaat het dat die ongewone, almagtige God in sy lewe ’n inspraak maak. Inteendeel, daar was nie ‘n enkele area van sy lewe wat nié deur Jesus oorgeneem is nie. Hy het Jesus gelééf. Sy karakter, gesindheid, waardes, denkpatroon, lewenstyl en identiteit was deurdrenk met Jesus. Paulus het waarlik ‘n openbaring gehad van sy plek in Christus, en Christus se plek in hom.
En deur Jesus te lééf elke dag van sy hele lewe, het hy ʼn ewigheidsverskil in sy eie lewe sowel as dié van die mense wat hy aangeraak het, gemaak. Dink net hoe baie sou die mensdom uitgemis het as Paulus nie hierdie openbaring gehad het en nie toegelaat het dat die Gees deur hom woel nie!
Siegfried kyk na hierdie openbaring wat Paulus beleef het in sy opstandingspad – hoe hy regtig verstáán het wat sy plek in Christus was, en Christus se plek in hom. En hoe God Hom as gevolg van hierdie ‘verstaan’, kon gebruik om Sy mense te bedien. Mag ons almal hierdie openbaring ervaar en toelaat dat die Heilige Gees deur ons woel, sodat ons ook ‘n ewigheidsverskil kan maak. Nie omdat ons so goed is nie, maar omdat die ongewone, almagtige God deur ons werk.