Net plain stupid (Siegfried Maré)
Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red – 1 Korinthiërs 1:21
Toe Dietrich Bonhoeffer oor die betekenis van die kruis besin het, het hy die volgende gevolgtrekking gemaak: “A king who dies on the cross must be the king of a rather strange kingdom. Only those who understand the profound paradox of the cross can also understand the whole meaning of Jesus’ assertion: my kingdom is not of this world.” Alles van Jesus se leer en lewe was die teenoorgestelde van die koninkryk wat sy tydgenote verwag het. Die Messias word in ’n stal in plaas van ’n paleis gebore, word gekruisig in plaas van gevolg. Niks aan Jesus was soos wat dit veronderstel was om te wees nie. Sy manier van doen het die kerkmense van sy tyd hewig ontstel. Die visie wat Hy van God se koninkryk gehad het, het die bestaande orde onderstebo gekeer. Jesus het baie mense baie ongemaklik gemaak. Brennan Manning het dit so gestel: “Jesus het ons wêreld as die musiekmaker binnegekom, maar die wêreld was omgekrap deur sy lied…”
Vir van jou kollegas, vriende of selfs van jou eie familie klink die idee van ‘n Redder wat ‘n oënskynlike sinnelose en vernederende dood op ‘n kruis gesterf het, gedryf deur die liefde van ‘n Almagtige en Hemelse Vader wat ‘n groter Plan vir elkeen van ons gehad het, en steeds het, totaal onlogies, of soos sommige dit noem, net ‘plain stupid’. Dit maak net nie sin nie. En dít maak dit nog makliker om te verwerp. Veral in ‘n wêreld waar konvensionele wysheid so hoog op prys gestel word. God se plan ‘sit’ nie lekker by mense nie, omdat dit wêreldse wysheid heeltemal op sy kop omdop. Ondanks die indrukwekkendheid daarvan, misluk menslike wysheid omdat ons God nie daardeur kan ken nie. Maar, vir die wat wél die dwaasheid of foolishness omarm, vind ons in hierdie vreemde koninkryk die Genade wat Sy arm neerlê op ‘n houtkruis en nooit ophou om ons te probeer bereik om die ewige lewe vir ons te bring nie. Vind ons God se Plan wat alle wysheid te bowe gaan.