Om liefde te snap (Siegfried Maré)

Partymaal is ons traag om die eenvoudige waarhede te onthou. Ons vergeet wat Jesus vir ons gedoen het. Ons vergeet van Sy oneindige liefde vir ons. Ons vergeet dat…die Here ons bitter baie liefhet. En dis nie net lippetaal nie.

Weet jy hoe lief God jou het? Wanneer Hy na jou kyk, verkrummel Hy. Daar is niks wat jy meer kan doen sodat Hy jou nóg meer kan liefhê nie. Onthou jy dat Hy jou so liefhet dat Hy bereid was om sy Seun vir jou aan ’n kruis op te offer? Ja, dit is beslis nie net lippetaal nie.

God se liefde vir ons is soms eenvoudig net te groot om te verstaan. Maar tog moet ons probeer om ’n stukkie daarvan deel te maak in ons lewens, want sien, as ek ’n stukkie verstaan van die liefde wat God vir my het en dit wat Hy alles net vir my gedoen het en sal doen, gebeur daar iets in myself. Wanneer ek ’n stukkie daarvan raaksien en toelaat dat dit in my lewe losgelaat word, word ek anders. Hoe meer ek toelaat dat die Heilige Gees oorneem, hoe meer Jesus en Sy liefdesmaniere kom intrek neem, is die netto effek dat ons uit liefde leef én liefde uitleef.

Wanneer ek glo dat God by my is, en Sy liefde bínne in my borrel, kan ek nie seermaak nie. Ek kan nie eens op ander se tone trap nie. Ek kan ook nie pyn aan ander veroorsaak nie. Nee, dis net ‘moonshine and roses’. En hoe het ons wêreld dit nie nodig nie! Daar is soveel seer en swaar daar buite. Rondom ons bloei mense. Hulle smag na liefde. Hulle smag na ’n stukkie uitkoms. Hulle smag om oorspoel te word met die liefde van Jesus. Hulle smag om die liefde te ontdek wat die dood oorwin.

Die lewe is nie rocket science nie. Al wat ons moet doen is om die Heilige Gees groter ruimte in ons lewe te gee. Om liefde, te lééf. Dit is die gom wat ons vasgom aan mekaar en aan ons Verlosser.

Siegfried herinner ons hoe lief God ons het, wat dit Hom gekos het om saam met ons te wees, en hoe ons hierdie liefde deur die Heilge Gees kan uitleef deur ook vir ander lief te wees.