Op pad na heiligheid (Siegfried Maré)
Om heilig te leef is ’n uitdaging…wel, die meeste van ons dink seker so. Dit klink so ‘supergelowig’; ‘n ‘next level’ van Christenskap wat nie beskore is vir dié van ons wat soms die merk mis nie. Miskien voel ons so omdat ons nie presies weet wat heiligheid eintlik beteken nie. Ons weet God is heilig. Ons weet Jesus is heilig en dat die Heilige Gees ook heilig is. So, wanneer Paulus sy brief aan die Filippense begin met: “aan al die heiliges in Christus,” voel meeste van ons dalk dat ons klaar uit die bus val. Dat Paulus se brief net op die klomp heiliges gemik is, en nie vir ‘almost-but-not-quite-there-yet’ ekke bedoel is nie.
Hoe bemoedigend is dit egter om te weet dat, al sit ons die pot soms mis en val ons met ons agterstewe in die sonde, diskwalifiseer dit ons nie van heiligmaking nie. Al loer ons so nou en dan by die verkeerde kant in en doen ons verkeerde dinge, moet dit nie ons spoed breek om heilig te wil lewe nie. Dit is God se droom vir ons almal: dat ons heilig sal wees – opsygesit vir Hom. Afgesonder vir ons Vader. En in Sy wonderlike genade roep Hy álle gelowiges op tot heiligmaking. Eenvoudig gestel is heiligheid ’n pad waar ons leer om al hoe minder die pot mis te sit en al hoe meer te doen wat God wil hê ons moet doen. Om glorie te bring vir ons Jesus Christus!
Die gemeente in Filippi is so mooi en egte voorbeeld wat Paulus gebruik om vir ons die hoe, wat en hoekom van heiligmaking te wys. So, kom join ons soos ons journey deur die boek Filippense begin en ons kyk na al die verskillende aspekte van heiligmaking, sodat ons toegerus kan word op hierdie pad na heiligheid!