Die Uitnodiging (Siegfried Maré)
In die volgende paar weke stap ons deur die brief van Paulus aan die Korinte.
Dit is ‘n noodsaaklike brief omdat daar groot moeilikheid is in die jong gemeente. Hulle verstaan nie so lekker hulle opgestane lewe nie. Eintlik is dit te verstane dat daar moeilikheid is en die jong gemeente nie alles verstaan nie. Daar het nie “Hoe werk ’n gemeente 101” handleiding bestaan nie en die feit dat die samelewing waarin hulle was se moraliteit nie bo die belt was nie, het ook nie eintlik gehelp nie.
Maar in plaas van om hulle uit te trap gebruik Paulus die inleiding van sy brief om hulle te herinner aan wie hulle is: Mense wat aan God behoort. Kinders wat geroep is en opgestaan het om vir Jesus te leef.
Die brief is ook ‘n uitnodiging vir ons wat aan Jesus behoort. Dit is ‘n uitnodiging van God vir jou en my om ons lewe saam met Christus te lewe. Dit is ‘n uitnodiging vir ons om ons opgestane lewe te verstaan.
Kom stap die volgende paar weke saam met ons deur Korintiërs, en laat toe dat die Gees via Paulus se woorde in jou woel. Dan sal ons aan die einde van die boek anders wees, meer in lyn met God se wil vir ons lewe. Mag dit tog so wees!