Sit, Saulus! (Siegfried Maré)

Die ding van Saulus was, hy het rêrig êrig geglo dat dit wat hy doen, reg was. Saulus was vas oortuig dat hy die regte goed vir God doen deur Jesus te vervolg. Sy intensie was eg, maar sy optrede walglik. Hy was so oortuig deur sy eie verduistere hart, dat hy okay daarmee was om te sien hoe ‘n jong man voor hom gemartel en ‘n grusame dood sterf; hy was okay daarmee om mans en vroue uit hul huise te sleep, te skei van hul kinders, te martel en hulle in tronke te stop; als in die naam van die ‘waarheid’ waarin hy so onverbiddelik geglo het. Ongeregtigheid was die meester van sy lewe. Hy was so vasgevang in die gees van sy tyd, in wette wat die Fariseërs nagevolg het, dat hy die koms van die Messias en die waarheid van die evangelie totaal en al misgekyk het. Hy was totaal blind vir die geestelike scrapyard waarin hy hom bevind het.

Mens weet amper nie wat was erger nie…die feit dat hy al hierdie skandelike dinge gedoen het; of die feit dat sy verduistere malkoppie en hart hom vertel het dis als okay

Saulus het seker sy dinges afgeskrik die dag toe hy sy “Sit, Saulus!” oomblik ervaar het – toe hy so intens bewus gemaak is van sy eie geestelike doodsheid. Watter gedagtes moes deur sy kop geflits het toe hy so terugkyk na die scrapyard van sy lewe…? Deur die genade van God maak hy daai dag ‘n stand, plak vir Saulus op sy sitvlak neer, staan op as Paulus, en draai vir altyd sy rug op die doodsheid wat hom vir so lank besit het. Hy sou nóóit weer vergeet uit watter geestelike duisternis God hom kom red het nie.

Siegfried kyk na hierdie “Sit, Saulus” gebeurtenis – waaruit en hoe Paulus opgestaan het in Christus Jesus, die doodsheid van sy ongeloof en sondige begeerlikhede agtergelaat het, en die lesse wat ons daaruit kan neem.