Saam met Jesus aan die Kruis (Liesl Maré)

Met wie vereenselwig jy jou wanneer jy by die voet van die kruis staan, en vir Jesus daar sien hang? Ná Liesl se preek verlede Sondag, maal die vraag seker deur ‘n paar van ons se gedagtes. Waar is ek in Jesus se kruis storie? Al hierdie rolspelers…die owerstes, die volk, die soldate, die kriminele, selfs Jesus se eie volgelinge…so naby aan die kruis, maar so ver van Jesus. ‘Nee nooit! Ek sou nóóit soos een van HULLE gewees het nie!’ roep dit in jou binneste. Vertel jou lewe ‘n storie van met wie jy jou vereenselwig?

Dis ‘n tawwe gedagte, maar ons moet nooit versuim om te besef dat ons die oorsaak was van Jesus se kruisdood nie. Ons dade het dit nodig gemaak dat daar ’n Verlosser moes kom. Ja, ons moes eintlik daar gehang het, maar Jesus het in ons plek gesterf sodat ons vandag vir Hom kan leef. Ons moet ook nooit versuim om te besef dat Jesus se kruisdood nie maklik was nie. Ons lees soms baie vinnig oor die gedeeltes, want ons wil by die hoogtepunt kom. Ons wil by die opstanding kom. En wanneer ons by die opstanding kom en “deur” die opstanding na Jesus se lyding kyk, dink ons maklik ja, dit moes gebeur het sodat ons verlossing aan die kruis bewerkstellig kon word. Tog maak dit die pad wat Jesus moes stap, nie makliker vir Hom nie. En dalk moet ons dit saam met Hom stap om te besef waardeur Hy ALLES moes gaan vir ons.

Die worstelende, morsige pad vir jou en my! Jesus het nie omgedraai nie. Hy het nie halfpad Sy kans gegryp om die swaar te mis nie. Nee, ek en jy het te veel waarde. Jesus het deurgedruk. Met ‘n all-consuming liefde wat in Sy hart gebrand het, vir jou en my.

Ons moet ook onthou: ons redding is maar net die beginpunt van ons geloofspad saam met God. Jesus het wel in ons plek gesterf sodat ons gered kan word, maar dit het ook ’n nuwe mens van my en jou gemaak. But, we can never ever truly arrive. Redding is ‘n deurlopende, genesende, vrymakende proses. En die pad kan morsig en worstelend wees. Selfs pynlik. Wanneer jy jou met Jesus vereenselwig, gaan daar tye kom, dae, maande, jare, wanneer dit nie so rooskleurig gaan wees om Jesus-kind genoem te word nie. Ja, daar kan tye kom wat jy eintlik wens jy het dalk ’n paar ander keuses gemaak. Maar, wanneer ons onsself met Jesus vereenselwig, loop ons dit uit met volharding. Leef ons naby aan die kruis, en naby aan Jesus.

Liesl deel met ons die tweede gedeelte van haar boodskap oor Jesus se kruisstorie.