So naby aan die Kruis, maar so ver van Jesus… (Liesl Maré)
Wonder jy ooit wat Jesus gesien het terwyl Hy aan die kruis gehang het? Sien jy die prentjie voor jou? Die soldate wat so spot. Die gebulder en die harde lag soos hulle grappe maak. Die verbygangers wat sommer ook intjip. Hulle het Jesus bespot en die lelikste dinge oor Hom gesê. Van hulle het net gestaan. Niks gedoen nie. Net gekyk. Maar dit was nie net die soldate en die verbygangers wat gespot het nie, ook die kerk het by die kring van spotters kom aansluit. Vers 35: “En die owerstes het saam met hulle ook geskimp en gesê: Ander het Hy verlos; laat Hy Homself verlos as Hy die Christus, die uitverkorene van God, is…” Dan was daar Pilatus, wat op die nipper sy hande probeer skoon was wanneer hy skielik tot die besef kom met Wie hy te doene het…maar te laat, want die water is onder deur die brug en al die koeëls is dwarsdeur die kerk.
Net ’n entjie daarvandaan staan ’n klompie vroue. Dit was die vrouens wat omgegee en Jesus versorg het. Hierdie groepie het geweet wie Jesus is. Hulle het met hul harte na Hom gekyk. Hulle trane het gevloei…maar steeds het hulle hul afstand behou.
En dan die twee kriminele…die een met ‘n spottende ‘while you’re at it, save me too’-houding; die ander wat in die laaste doodsnikke van sy lewe vir Jesus síén, werklik SIEN.
Al hierdie rolspelers…so naby aan die kruis, maar tog ook so ver van Christus af.
En Jesus? Te midde van al die seer en swaar en spoeg het Hy ’n hoop liefde teenoor jou en my uitgestraal. Behou Hy Sy vrede en verlossingskrag. Maar Sy hart breek in stukke vir hierdie mense wat so spot en met God mors. Weet julle dan nie dat julle met die Seun van God mors nie? Weet julle dan nie dat julle op pad is na die hel nie? Hoekom is julle dan tog so doof vir die Evangelie!
En jy? Wat sien jy? Wat gaan deur jou gedagtes wanneer jy die kruis sien? Met wie vereenselwig jy jou wanneer jy by die voet van die kruis staan, en vir Jesus daar sien hang?
Liesl vertel vir ons die storie van die Kruis, en ons gaan bietjie kyk na al die verskillende rolspelers en hul stories.