Storie van Geloof (Deel 1: Abram)

Abram was anders. Hoe langer hy gelewe het, hoe duideliker het dit geword dat hy anders was weens sy geloof. Trouens, die apostel Paulus is later geïnspireer om na hom te verwys as ‘die vader van almal wat geloof het’! ’n Baie belangrike figuur in die Ou Testament, sal almal saamstem. Maar in die wêreld van destyds was Abram nie juis besonder belangrik nie. Om die waarheid te sê, as daar toe al koerante was, sou daar seker nie ’n voorbladberig gewees het oor sy besluit om uit Haran uit weg te trek nie. Maar, Abram was anders. Hy was as’t ware die stroom-op-swemmer van sy tyd. Hy was ‘n man wat bereid was om God te hoor, en te gehoorsaam, en het weldra ontdek dat sy lewe nooit weer dieselfde sou wees nie, want hy het begin leef in die ruimte van God se voorsiening en seëninge. Abram het ook maar sy ups and downs gehad, die tye toe hy kleingelowig was en sy eie plannetjies wou maak.

Maar deur als het Abram geklou aan die beloftes van God. Later was sy kneukels wit van die vashou, maar hy het nie gelos nie en hy het geweet God sal een of ander tyd vir hom deurkom en doen soos Hy belowe het.

Abram se verhaal spreek van God se goedheid en krag. Abram was nie altyd die allesootreffende gelowige nie, maar God is die allesoortreffende God.

Abram was anders. Kom ons kyk hoe hy so ’n man geword het. Ons kan baie by die Vader van Geloof leer. En net soos Abram se verhaal, kry ons stories krag, en kan dit regtig ‘n verskil maak, omdat God daarin is.