Leer ander Wie God is (Siegfried Maré)
Nebukadnesar se eerste kennismaking met die lewende God was toe Daniël die uitleg van sy eerste droom aan die koning gegee het. Nebukadnesar kom tot ‘n ontnugtering. Hy besef dat hier ‘n Godsman is wat íéts het wat geen mens in Babel het nie. Hier is ‘n God wat groter as sy gode is. Dit is egter baie duidelik dat die belydenis net uit sy mond en dalk ‘n bietjie uit sy verstand kom, maar verseker nie uit sy hart nie. Tog skryf die Here hom nie af nie. Die Here maak weer en weer bemoeienis met hom, totdat sy oë finaal oopgaan.
Ons lees in Daniël 4 dat die Here wéér met Nebukadneser praat. En wéér vertrou die koning vir Daniël om vir hom die uitleg van sy droom te gee. Maar wat maak Nebukadnesar? Hy maak weer droog. En toe onttroon die Here hom sommer oornag. Hy sit in die veld en eet gras soos die beeste. Van koning tot gras-eter. En uiteindelik kom Nebukadneser tot inkeer, égte inkeer. Hy het ‘n openbaring van die wáre God. En sy lewe verander onherroeplik.
‘n Man vir wie ons nie baie hoop sou hê nie, het ‘n ontmoeting met die Here en word gered.
In hierdie volgende gedeelte in ons Vas-reeks, stap ons verder deur die boek Daniël, en kyk ons na hoe ons Vas-leefstyl vir ander leer Wie God is.