Verstaan die Opgestane Lewe: Deel 9 – Liefde in Oorvloed (Siegfried Maré)
Een van die gevolge van ons opgestane lewe, is dat ons liefde ontvang vir ander mense. Ander mense met hulle behoeftes begin vir ons meer belangrik raak as ons eie goetertjies, en die netto effek is dat ons uit liefde leef én liefde uitleef. Hoe meer ons toelaat dat die Heilige Gees oorneem; hoe meer Jesus en Sy liefdesmaniere kom intrek neem en ons deur Sy liefdesbril na ander kyk, hoe meer verander ons harte. Dit is eintlik onafwendbaar as ’n mens ‘n kind van God is: daai liefde kan jy nie net vir jouself hou nie. Dis te veel. Dit borrel uit ons harte en val op die mense om ons.
It’s a match made in heaven: hoe meer ervaringe en geleenthede God vir ons gee om ons liefde vir mekaar en ander te lééf, hoe meer besef ons dat liefde nie ‘n stop-knoppie het nie. Liefde word die fondasie van ons doen en late. Liefde word die vertrekpunt. Liefde word die grond onder ons voete en die kompas wat ons nodig het om deur ons opgestane lewe te loop.
Liefde pomp meer liefde.
Liefde word oorvloedig.
En liefde word jou alles.
Paulus het oorgeborrel van liefde. Ons stap verder deur sy brief aan die Filippense en gaan kyk na hoe ons opgestane lewe daartoe lei dat ons liefde net meer en meer word.