Why bother? (Siegfried Maré)
As ‘n mens na Paulus se lewe kyk, is daar een ding wat van hom uitstaan. Sy passie vir die Evangelie. Hy was ‘n ou waarin daar ‘n woeste transformasie plaasgevind het, toe Jesus hom tref. God het vir Paulus vir ‘n spesifieke taak bestem, en toe hy nie self wou draai nie, toe draai die Here hom en hy ontmoet die lewende Jesus. En Paulus die vervolger word ‘n navolger en gestuurde vir die Evangelie. Paulus het net één lewenstaak gehad, en dit was om siele vir Christus te wen. Maar boeta, dit was nie ’n maklike taak nie!
Hy is gestenig en vir dood agtergelaat, pimpel en pers geslaan, in die tronk gegooi, vervolg van alle kante af, het hongersnood gely, is deur seerowers aangeval, het amper op ‘n skip vergaan, het menigmaal koud gaan slaap en was permanent in gevaar. Uiteindelik het hy gesterf vir sy geloof. Hoekom het hy dit gedoen? Why bother? Eers vervolg hy Christene, en dan draai alles om, en sy aardse lewe verander in hel. Hoekom op aarde doen hy dit? Hoekom so swaar kry? Paulus gee self die antwoord. Fil 1 : 21 “….. want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins”.
Dis hoekom Paulus dit gedoen het. Toe Jesus hom tref, toe verstaan hy. Solank hy lewe, kan hy Christus verkondig, maar as hy sterwe, is hy in die hemel, by Jesus. Paulus sou wou sterf, omdat hy bitter swaar gekry het. Maar hy wou leef, omdat hy vir ander van Jesus se liefde wou vertel. Nie net om dit te verkondig nie, maar omdat Paulus regtig regtig lief was vir Jesus.
Hy het die GUTS gehad om die WOORD te doen, te lewe, en ook te sterwe met die uitsluitlike doel dat ek en jy ook God kan belewe soos hy het!
Sondag kyk ons na die ‘why bother’ deel van Paulus se verhaal – wat hom gedryf het om met boldness die Goeie Nuus tot die uithoeke van die aarde te gaan verkondig. En hoe ons, wanneer Jesus ons tref, ook ‘n woeste en passievolle gestuurde vir die Evangelie kan word.