‘n Hemelse besigheid (Siegfried Maré)

Verbeel jou jy sit voor die groot baas van ‘n multi-Miljoen Rand korporasie, en doen aansoek vir ‘n top posisie. Jou CV pryk voor hom, en onder “Professional experience” staan daar “Partner of the Ruler of the Universe”. ‘n Wenkbrou of twee sou waarskynlik lig en jou kern gesondheid bedenklik bevind word. Tog is dit die groot perk van die “almost-too-good-to-be-true” posisie waarin ons as Christene onsself bevind. God het ons nie geskape om…wel, skape…hier op aarde te wees nie. Nee. Hy het in Sy soewereiniteit gekies om met die mens saam te werk in die uitvoering van Sy wil. Wat ‘n nederige gedagte! Hy word beslis nie deur die mens beperk nie en kan Sy wil heeltemal alleen uitvoer, maar tog verkies Hy om deur en in vennootskap met ons te werk. Maar, vir hierdie vennootskap om te floreer, moet ons verstaan wat ons “job specs” is en wat Hy van ons verwag. Moet ons ons Vader se hart ken en sonder twyfel weet wat vir Hom belangrik is. Moet Sy passie ons mission statement wees.

C.S. Lewis het een keer oor hierdie vennootskap met God geskryf: “For He seems to do nothing of Himself which He can possibly delegate to His creatures. He commands us to do slowly and blunderingly what He could do perfectly and in the twinkling of an eye.“ Dit gaan alle verstand te bowe dat die magtige Heerser van die Heelal die sleutels van Sy “korporasie” aan ‘n klomp onvolmaakte, “blundering” wesens sal gee. Maar Hy het. Die vraag is…wat doen ons daarmee?

Ons het die afgelope paar weke baie gefokus op die “me, myself and I” van Christenskap – die “wat-kry-ek-uit-die-deal-uit?” Hierdie Sondag kyk ons na die verantwoordelikhede en mandaat wat aan ons opgelê word wanneer ons as junior vennote by hierdie Hemelse Korporasie aansluit.