Môreglans Ouetehuis Uitreik

Wat ‘n voorreg was dit nie om Môreglans Ouetehuis in Krugersdorp te besoek nie.  Soos alles wat ons by die Akker aanpak, het ons daar weggegaan met baie meer as wat ons gegee het…die gevoel van vrede en liefde onder die bejaardes was iets baie besonder om te aanskou.  Ons is net weer daaraan herinner dat met Jesus se liefde in ons harte en benadering, ons enige kleur-, ras-, taal-, gesondheids– en ouderdomsgrens kan oorbrug.  Woorde is onnodig wanneer als wat jy wil sê in ‘n drukkie opgesluit lê. Saam met dit was daar ook die bewusmaking dat ons na ons senior burgers MOET omsien, ons moet na hulle uitreik, ons moet tyd by hulle spandeer, ons moet hulle laat lag en vir hulle ‘n drukkie gee wanneer hulle eensaam is en na hul geliefdes verlang.

Want ons kan hul liefde nie ontbeer nie. Ook nie hul gebede nie. Sonder ons oumensies sal ons lewens eenvoudig leeg wees.

Ons is hier omdat ons toekoms vir hulle belangrik was. Hul grysheid spreek van die wysheid van die jare! Kom ons saai in ons oumensies se lewens: saad van hoop, genade, humor en sommer net plein liefde. Dan kan ons ook eendag ‘n oes verwag wanneer ons lewe swaarder, ons wêreld kleiner en ons besittings minder geword het.