Die Kruis: Deel 1 – Struikelblokke van die Kruis (Siegfried Maré)

Paulus tiep ‘n paar bootjies behoorlik om in sy brief aan die Galásiërs. Lees jy so deur Hoofstuk 5, kan mens beslis sy driftigheid en frustrasie met die klomp verstaan: die mense was duidelik baie deurmekaar oor wat hulle moes doen om hulle verlossing te kan ‘verdien’. Hulle het allerlei vreemde dinge onderhou en nog vreemder dinge gedoen wat absoluut geen verlossingswaarde gehad het nie. Met daardie woordjie verdien, ketting hulle hulself net weer vas aan dit waarvan Jesus hulle op die Kruis vrygekoop het. Hulle word soos slawe wat vrygekoop is, maar nie hulle vryheid verstaan nie en dan weier om van hulle boeie afskeid te neem. En net daar ploeter hulle oor hul grootste struikelblok: met daardie woordjie verdien gee hulle hul vryheid in Jesus en die Kruis net so op. Want wanneer jy glo dat jy net ‘verdien’ om in die hemel te kom as jy die wet stiptelik onderhou, vlieg genade by die deur uit. Dán gaan dit alleenlik oor werke. Dis dán wanneer werke en verdienste, ‘goedbedoelende’ godsdienstige reëls en regulasies struikelblokke op jou pad na Jesus word.

En dít is nie die Evangelie nie. Dít is nie die boodskap van die Kruis nie. Ons kan nie met die nakom van ’n klomp reëls in God se goeie boekies kom nie. Niks wat ons dóén, kan ons red nie. Ons is klaar gered! Jesus Christus het ons gered toe Hy aan die Kruis vir ons gesterf het! Hy het dit wat ons moet doen uit ons hande kom haal en dit namens ons gedoen. Ons word vrygespreek, deur genade alleen en omdat ons in geloof aan Christus en dit wat Hy op die Kruis vir ons gedoen het, vasklou. Ons is vry, werklik vry. Wat ‘n wonderlike waarheid! En dít is die Evangelie.

Ongelukkig is daar soveel mense (en ja, selfs Christene!) wat hierdie groot waarheid van die Kruis mis, wat neerploeter oor die struikelblokke wat op hulle pad kom. Ons tema vir Februarie is Die Kruis, en in hierdie eerste deel van sy boodskap gaan Siegfried kyk na ‘Struikelblokke van die Kruis’; wat is die verskillende struikelblokke wat in ons pad kom? En dan, die keuse wat ons elkeen moet maak om met Jesus se Kruis te identifiseer en ons eie een op te neem, tot glorie van Sy naam.