Die Kruis: Deel 2 – Die Kruis en my geloof (Siegfried Maré)
Let’s recap: Paulus is vies vir die Galásiërs. Na al die goeie werk wat hy in Galásië kom doen het, draai hulle na ’n geloof van regverdiging slegs deur dade. Jy moet jou plekkie in die hemel “inwerk”. En daarmee trek hulle ‘n streep deur Jesus se werk op aarde en verklaar basies dat Jesus en dit wat Hy op die Kruis gedoen het, nie genoeg is nie.
Gal 2:21 Ek verwerp nie die genade van God nie; want as daar geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterwe.
Paulus spel dit vir hulle uit. Híérdie is die middelpunt van ons geloof: Jesus het gesterf vir ons sondes. Punt. Hy het oorwin en daarom is die straf vir die verkeerde dinge wat ons doen reeds gedra. Punt. Werke is nie ons entrance ticket tot die hemel nie. Geloof en genade is. Punt.
Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.
Híérdie teks moet die middelpunt van ons bestaan word. Nou leef ek deur geloof. Alles, maar alles van my moet om my geloof in Jesus draai. My hele bestaan moet draai om die Seun van God. Dit wat Hy aan die Kruis gedoen het, is genoeg. Om gered te word, is niks behalwe geloof in Jesus Christus nodig nie. En wanneer ek die genadegawe van verlossing in geloof ontvang, word ek saam met Christus gekruisig. Wat ek was, gaan dood, maar iets wat nuut en beter is, staan saam met Jesus op en laat my toe om as Sy dissipel te leef as gevolg van Sy genade.
Dít moet jy glo, en dít moet jy gaan uitleef.
In hierdie tweede deel van sy reeks oor Die Kruis, kyk Siegfried na “Die Kruis en my geloof”; hoe Jesus aan my openbaar wie ek is in Hom; hoe ek myself kan oorgee aan die Kruis, en wat ek daarna kan verwag.