Die Kruis: Deel 4 – Die Kruis en my vervolging (Siegfried Maré)
Paulus waarsku die Christene in Galásië om moed te hou en om vas te byt in hulle geloof in die opgestane Jesus; om te bly glo dat dít wat Jesus aan die Kruis gedoen het, genoeg was. Hy het geweet om vervolging vry te spring, mense verlei sou kon word om die wet aan te neem, en sodoende besny te word. Daarom lewer hy sy persoonlike pleidooi aan hulle, letterlik in GROOT letters (Gal 6:11).
Dit was nie maklike omstandighede waarin die mense geleef het nie. In daardie tyd is mense links en regs afgemaai as hulle nie gedoen en geglo het soos die regering gesê het nie. Baie volgelinge van Jesus het presies dieselfde paadjie as Hy gestap. Vir die jong Christene was dit bitter moeilik om op te staan teen die besnydenis, want hiermee saam plaas hulle hulle lewe in groot gevaar. Sommige was nie bereid om so ver te gaan nie.
Ek wonder of ek bereid sou wees om so ver te gaan?
Paulus sugar coat nie die Evangelie nie. Wanneer jy Jesus aanneem, neem jy ook Sy Kruis aan as die deurslaggewende faktor in jou lewe. Dit verander alles, want die Kruis verbind ons aan God en skei ons van die wêreld. Jy het saam met Christus gesterf, en daarmee het jy die wêreld afgesterf. Jy het saam met Christus opgestaan, en daarmee het jy deel gekry aan die nuwe lewe wat God skenk. Hierin lê ’n moeilike implikasie: jy kan jou nie verheug in die verlossing van Christus se Kruis as jy weier om deel te hê aan die verwerping en vervolging wat Sy Kruis inhou nie. Dít is wat navolging van Christus beteken.
Hudson Taylor beskryf dit so mooi: “Carrying the cross does mean following in Jesus’ footsteps. And in His footsteps are rejection, broken heartedness, persecution and death. There are not two Christs – an easy going one for easy going Christians, and a suffering one for exceptional believers. There is only one Christ. Are we willing to follow His lead?”
Ek wonder of ek bereid sou wees om in Sy voetspore te volg?
In die 4de gedeelte van ons reeks oor Die Kruis, gesels Siegfried met ons oor ‘Die Kruis en my vervolging.’