Die Opstanding: Deel 4 – Gereedmaking (Siegfried Maré)
Ná die wonderteken van die verandering van water na wyn wat by die bruilof in Kana plaasgevind het, reis Jesus en Sy handjievol volgelinge na Jerusalem waar dit byna die Joodse Paasfees was. ‘n Stad in rep en roer! ‘n Miernes van mense, winkels en blêrrende diere. En wáár het al die chaotiese bedrywighede plaasgevind? Wel, by die tempel! Die plek waar die fokus op God moes wees.
Dalk is dit omdat Jesus se optrede hier so vreemd was. Verbeel jou: ’n sweep! Dalk is dit omdat die woedende spektakel so grafies beskryf word. Hy smyt die geldwisselaars se geld op die grond, keer boonop hul tafels om. Beslis nie die sagte liewe Jesus van die kinderbybels nie! Hoe ook al. Uit dié klompie verse in Johannes 2 wat vertel hoe ‘n heilige woede oor Jesus kom en Hy die tempel en die aangrensende plein “skoonmaak”, ervaar ons in diepte Jesus se verterende liefde vir God, en vir dit wat vir Hom belangrik is. Ervaar ons Sy absolute passie en ywer vir Sy Vader se eer.
Maar hierdie storie gaan nie net oor die reiniging van die tempel nie. Dit is ook hier waar Jesus Sy bruid begin voorberei vir haar opstanding. Die passie vir die eer van God, die passie vir ware aanbidding, die ywer vir die Here, die bevryding van sondes, die 24-uur toegang tot God deur die nuwe tempel wat Jesus is, die ervaring van sélf tempel van die Heilige Gees te wees, die openbaring van ware kennis uit die Skrif, die geloof, vertroue en lewensverandering. AL hierdie dinge is as gevolg van die feit dat Jesus uit die dood opgestaan het. AL hierdie dinge vorm deel van my opstanding en gereedmaking vir my bruilof. Dít is die krag van Sy opstanding wat in ons werk. Dít is die lewe van die opgestane Here Jesus wat in elke kind van die Here werk, wat veroorsaak dat ons lewe begin lewe kry. En dít is ware lewe.
In hierdie volgende deel in ons reeks oor My Opstandingslewe in God, kyk Siegfried na ‘Gereedmaking vir my bruilof’. Kom hoor hoe jy ook ‘n opstandingslewe kan lei!