Die Opstanding: Deel 5 – Koninkryk (Siegfried Maré)
Op ‘n warm, sanderige woestyndag, langs ‘n put vol yskoue, helder water, knoop Jesus ‘n geselsie aan met ‘n Samaritaanse vrou. Sy het van ‘n anderse ras as Jesus gekom, waarmee die Jode nie eintlik wou assosieer nie. Inteendeel, die Jode en Samaritane het mekaar niks gelaaik nie. Bo en behalwe dit het die vrou met ‘n vragvol van haar eie issues gesit…’n verworpene binne haar eie hart en eie gemeenskap. En hier maak Jesus, ‘n man van Joodse afkoms, geselsies met die Samaritaanse vrou. Jesus ontmoet haar nét daar waar sy met haar alledaagse taak van water-aandra besig is. Hy gaan na háár toe. Jesus daag die sosiale reëls van die dag uit deur met ‘n vrou te praat, en dan deel hy nog haar koppie ook! Die skande!
Eers verhoed etikette en kulturele boksies haar om Jesus te sien vir wie Hy werklik is.
Wat het sy om vir Jesus te bied?
Maar Jesus sien iets in hierdie vrou raak wat sy self nog nie raaksien nie, en begin om die klippe uit haar pad te rol sodat Sy in Vader, ons Vader, se koninkryk kan opstaan en ‘n verskil kan maak. Waar Jesus ook al gegaan het, het Hy elke situasie as ’n koninkryk-geleentheid beskou. En in hierdie vrou waarin daar oënskynlik geen saadjie vir die koninkryk te plante was nie, het Jesus potensiaal gesien – hier is iemand vir die koninkryk!
En net soos hierdie vrou, is elke gelowige geroep om in die koninkryk van God op te staan en te lewe. Jy ook. Jy is toegerus, dalk met ervaring en gawes, om elke dag iets in God se Koninkryk te doen – nie afgesonder êrens op ‘n eiland nie, maar tussen mense. Waar jy skouerskuur met hulle wat nie in die koninkryk is nie. Waar jy tussen mense die leefstyl van die koninkryk lééf. Net soos Jesus, daar langs die put.
Siegfried gesels met ons oor My opstanding in die Koninkryk. Ons kyk na wat is koninkryk, wat jy nodig het om dit self te hê, en hoe jy daarin groei.