Die Opstanding: Deel 7 – Ewigheid (Siegfried Maré)
Dit was slegs enkele ure voordat Jesus aan die kruis sou sterf vir ons sondes. Ons lees in Johannes 17 van Jesus se innige gebed tot Sy Vader. Hy maak Sy hart oop soos ‘n kind teenoor sy Vader. Mens kan nie anders as om hierdeur aangeraak te word nie. Ons Here Jesus, wat ‘n verskriklike dood in die gesig gestaar het, soek in hierdie laaste ure Sy Vader se aangesig…en bid vir ons. Vir elkeen van ons wat hier lees. Hy het aan ons persoonlik gedink in Sy wonderlike gesprek met Sy Vader. Die Vader wat deur Jesus se groot offer aan die kruis nou ook ons Vader is. Dit is aangrypend om te weet dat Hy óns geken het. Ons name was in Sy gedagtes toe Hy daardie aand voor Sy kruisiging hierdie gebed gebid het. Lees dit weer: jóú naam was in Sy gedagtes toe Hy daardie aand voor Sy kruisiging hierdie gebed gebid het. Hy het geweet dat jy ook in jou lewe Sy ondersteuning, gebede, sorg, aanmoediging, beskerming en liefde nodig sal hê. En daarvoor het Hy gebid. Hy het ook geweet dat jou eenheid met ander gelowiges baie belangrik sal wees ten einde die Koninkryk uit te brei en Hom te verheerlik. Dink wat ‘n diepte, sinvolheid en rykdom dit aan ‘n mens se lewe gee, jou siening van jouself, jou hele bestaan op aarde, jou gister, vandag en môre: om te weet dat jy persoonlik in die hart van God bestaan het van altyd af, dat jy deur die Vader aan die Seun gegee is, dat jy ‘n liefdesgeskenk van die Vader aan die Seun is, dat Sy kruisdood spesifiek vir jóú ‘n opstandingslewe gee.
Wat ‘n fantastiese, wonderlike gedagte.
In ons volgende gedeelte in ons reeks oor My opstandingslewe in God, gesels Siegfried oor “My opstanding in die Ewigheid”.