Die Opstanding: Deel 6 – Kindwees (Siegfried Maré)
Die verlamde man lê by die bad van Betesda en hou sy oog op die water – elke keer as die water geroer word, skuifel hy nader, want hy glo dit sal hom genees. Maar ai, dit is altyd net te laat. En so gaan die tyd verby, ’n maand, twee maande, ses maande – en hy skuifel en hy faal en gaan lê maar weer. Een jaar gaan verby en nog een, 38 jaar lank! Maar Iemand staan uiteindelik nader, en vra hom: “Wil jy gesond word?” Wat ’n vraag! Maar die man vra nie vir Jesus om hom gesond te maak nie. Hy wil net in die water kom. Miskien kan Jesus hom daarmee help … Hierdie man het nie eens geweet Wie met hom praat nie! Jesus help hom egter nie in die water in nie. Jesus doen iets baie meer. Hy genees Hom, want dít is wat Jesus kom doen het: “Staan op, neem jou bed op en loop”. So maak Jesus die heerlikheid van Sy Vader God bekend.
Dit lok ‘n vurige reaksie by die Jode uit. Hulle is woedend oor Jesus hierdie man laat “werk” het op die Sabbatdag. Wanneer Jesus hulle hierop antwoord, jaag Sy antwoord hulle nog verder die harnas in. Dan verduidelik Jesus vir die mense met ‘n beeld wat almal kan verstaan: dit gaan oor die verhouding tussen ‘n pa en sy seun. Omdat God Sy Vader is, kan Jesus soos Sy Vader optree.
Jesus het ons status as weeskinders verander na ware kinders. Ons het Jesus se broers en susters geword. God het ons regte egte Vader geword. Ons woon nie meer in die weeshuis waar ons verlossing en opstandingslewe net ’n pie in the sky is nie. Nee, omdat ons regte egte kinders van ons Vader in die hemel is, omdat ons nou ware broers en susters van Jesus is, deel ons ook in Sy genade gawes.
In ons volgende gedeelte in ons reeks oor My opstandingslewe in God, gesels Siegfried oor “My opstanding as ‘n kind van my Vader in die hemel”, en kyk ons na hoe Jesus vir ons ‘n voorbeeld gee van hoe ek en jy, soos Hy, ‘n kind van Sy Vader kan wees.