Die storie agter die storie (Siegfried Maré)

Ons Suid-Afrikaners hou darem maar van ‘n goeie storie. En dis nou maar eenmaal so: ons hoor beter deur stories. Ons leer baie deur mekaar se stories. Geloofstories, hartstories, hulpstories, sukkelstories, wonderstories, worstelstories, krisisstories, God-stap-stories. Elke goeie storie het gewoonlik ‘n kritieke wending, ‘n hero, en ‘n epic einde. Elke storie wat ons hoor het die krag om of op te bou of selfs dalk af te breek. Maar hier’s die ding: almal het stories. Ongelowige mense het ook stories. Dis partymaal hulle wat die beste stories vertel. As Koningskinders is ons stories eintlik eenvoudig: hoe my lewe vóór Christus was, en hoe dit verander het sedert ek Hom as Saligmaker aanvaar het – die kritieke wending. Jou storie het net één Hero. En jou storie gaan een epic einde hê! Jy sien, die ding is, mense kan oor spesifieke punte in die Bybel redekawel en redeneer, maar niemand kan jou persoonlike storie van God se wonderwerk in jou lewe weerlê nie. Die grootste Storieverteller van alle tye skryf elke dag jóú storie.
Maar selfs al ken ons die krag van stories, sukkel ons soms om ons eie verhaal met ander te deel. En dis jammer, want God wil nuwe betekenis kom gee aan ander mense se ou stories wat hulle moeg gemaak het, deur jou storie. Die wonderlike ding is dat ons kan leer om ons stories op so ‘n manier te vertel wat wys dat God die held van die verhaal is! En ons stories sal sout en lig vir ander wees; sout soos aartappelskyfies – nadat hulle begin het, sal hulle net meer wil hoor; en lig wat ‘n pad na nuwe lewe saam met Jesus verlig.

Wat is die storie wat God vir jou wil hê en wil hê jy moet vertel?

Siegfried gesels met ons oor “Die boublokke van my en jou storie”.