Die Storie van alle stories (Siegfried Maré)
‘n Mens wonder nogal wat die twee mans wat saam met Jesus gekruisig is, met hulle strepie gemaak het. Dit is nou daardie strepie tussen die twee datums op hulle grafstene. Wat het alles opgeskryf gestaan in daardie enkele ou strepie?
Ons weet baie min oor die lewens van dié twee mans. Ons weet wel dat hulle misdadigers was. Vanuit die gesprek tussen die twee is dit duidelik dat hulle, anders as Jesus, ‘n regverdige verhoor en verdiende straf ontvang het vir die misdade wat hulle gepleeg het. Die houding van die twee toe hulle in pyn was en Jesus aangeroep het, was egter in direkte kontras.
Die een misdadiger het Jesus beledig en uitgetart: “As U die Christus is, verlos Uself en ons.” (Lukas 23:39). Die ander een het hom berispe en gesê: “… maar Hy het niks verkeerds gedoen nie.” En dan, een uitroep. Nét een: “Dink aan my, Here, wanneer U in U koninkryk kom.” Jesus, wat intense pyn beleef het en die sondes van die hele wêreld op Hom gehad het, het steeds tyd en genade gehad om hierdie man te antwoord met ‘n belofte: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” (Lukas 23:43)
En met hierdie een enkele belofte, verander Jesus hierdie man se strepie. In een enkele opmerking, word alle sleg en kwaad en boosheid en sonde wat in sy strepie opgeskryf was, uitgevee. Uitgewis. Vir altyd. En sy strepie kry ewigheidswaarde.
En die ander man se strepie…wel, mens het seker nie veel van ‘n verbeelding nodig om te weet waar sy strepie geeïndig het nie.
Wanneer Jesus se kruis deel van jou lewensstrepie word…sjoe julle, daar is nie regtig woorde nie. Maar die vraag is: wat maak jy met jou strepie?
Siegfried gesels met ons oor die Storie van alle stories – Die Storie van die Kruis.