Die Vas: Deel 1 – In die Wildernis (Siegfried Maré)

In die volgende paar weke (en so voor ons korporatiewe bid-en-vas in Januarie) gaan Siegfried met ons gesels oor Vas. Wat is vas? Daar is baie definisies en uiteenlopende sienings daaroor. Ek lees nou die dag hierdie vergelyking raak:

‘n Spies op sy eie is ‘n effektiewe en kragtige wapen. Die reik-afstand en krag waarmee ‘n spies gegooi kan word, word ongelukkig beperk deur die krag van die spiesgooier se arm. Die Australiese inboorlinge kon hierdie beperking oorkom deur die gebruik van ‘n Woomera. ‘n Woomera is ‘n eenvoudige maar baie effektiewe toestel wat gebruik word om ‘n spies baie harder en verder te gooi. ‘n Woomera verdubbel die lengte van die spiesgooier se arm. Daardeur word die spoed en krag waarmee ‘n spies gegooi kan word, baie vergroot. Die ekstra energie wat deur ‘n Woomera verkry word, is vier keer meer as die wat deur ‘n moderne, saamgestelde boog gegenereer word.

Vas is die Woomera van ons lewens-spiese (ons vlees of eie beperkinge). Wanneer dit op die regte wyse aangewend en toegepas word, is ons baie meer effektief in ons loop met die Here.

Vas is ‘n amazing tool wat die Here vir ons gee – dit is soveel meer as om onsself van kos of iets anders van die vlees te ontsê: dit is ‘n lewenstyl voor God van eenkant wees vir Hom. Die doel is om die Here na te jaag of aan te gryp, wanneer jou hart as’t ware saam met God s’n begin klop oor ‘n bepaalde saak. Vas verander nie die Here nie. Hy is steeds dieselfde gister, vandag en môre.

Jesus se vas is vir ons die voorbeeld. In die eerste van ons reeks preke oor Vas, kyk Siegfried na hoe Jesus gevas het, die omgewing waarin Hy was (die wildernis) en dit wat Hy moes deurwerk.