Die Vas: Deel 2 – Die Woord (Siegfried Maré)

Ons was al almal op een of ander stadium haastig en het sommer kitskos gekoop in plaas daarvan om ’n gebalanseerde maaltyd te beplan en voor te berei. Ons geniet skaars die kos terwyl ons dit op ’n drafstap afsluk. Dit kan dalk ons honger vir ’n rukkie stil, maar dit is nie regtig voedsaam nie.

Geestelike kitskos skep dieselfde probleem. ’n Vinnige kykie na ’n vers of twee op pad êrens heen bied nie aan ons langtermyn-groei of bevrediging nie. Ons geestelike kos moet noukeurig voorberei word sodat dit ons sal voed en verkwik en die diepste hunkering van ons siel sal bevredig. Wanneer die Skrif behoorlik bestudeer word, sal God se Gees dié wie se harte honger is vir Hom aanraak en intrek.

Vas bied vir ons so amazing geleentheid om weg te kom van die geestelike kitskos in ons lewens: wanneer ons tyd in God se Woord spandeer terwyl ons vas, voed ons ons siele met geestelike waarhede en maak dit ons geestelike hongerpyne stil.

Vas en God se Woord is onafskeidbaar van mekaar. Ons moet die Woord ons eie maak, want daarin lê sielsverkwikkende genade op genade in opgesluit. Lees die woorde oor en oor. Lees dit hardop. Voer gesprekke met God oor wat Hy geskryf het, praat met Hom en hê interaksie met Sy woorde. Sy Woord is dinamies en sonder dit eindig ons op om permanent by die MacDonalds drive-thru van die lewe rond te hang.

Siegfried gesels die volgende paar Sondae oor die boublokke van ons vas – die eerste daarvan; Die Woord van God.