Ek onthou (Siegfried Maré)
Die storie van Sadrag, Mesag en Abednego gryp nogal die verbeelding aan. Soos jy die verhaal in Daniël 2 en 3 lees, speel die gebeure soos ‘n Hollywood ‘blockbuster’ voor jou af: die magsmal ‘baddie’ wat die drie ‘good guys’ die allerverskriklikste dood wil laat sterf, ‘n ‘jaw-dropping’ hoogtepunt waar die goeie outjies op bonatuurlike wyse oorleef, en die ‘baddie’ kry ‘n vat so! vuishou op die neus. Die beskrywing van die oond gryp veral die verbeelding aan: daai oond was só warm dat selfs die outjies wat die drie manne daarin moes gooi, doodgebrand het. Uiteindelik val die drie jongmanne in die oond in, maar dan gebeur die wonderwerk: hulle kom absoluut niks oor nie – hulle klere ruik nie eers na rook nie.
Behalwe vir hierdie aksiebelaaide gebeure en die wonderwerk wat die Here gedoen het, is daar nog iets in die verhaal wat fasineer: Sadrag, Mesag en Abednego se onwrikbare dapperheid en geloof. Wat moes dit gevat het vir hulle om, ten spyte van die verskriklike waarskuwing en die realiteit van die vernietigende hitte van die oond, aan te hou glo en nie in te gee onder die druk nie? Toe Sadrag, Mesag en Abednego moedig voor Nebukadnésar staan, het hulle nie met sekerheid geweet dat God hulle sou red nie. Hulle het geen versekering gehad dat hulle die vlamme sou oorleef nie. Maar, hulle het in elk geval stewig bly staan. Want hulle het gewéét wie God is. In die aangesig van die dood het hierdie drie jongmanne met vrymoedigheid verklaar: “Of God my red of nie, ek sal vir Hom staan. Ek sal my geloof nie in gevaar stel nie, en ek sal my Here nie ontken nie.”
Wat sou Sadrag, Mesag en Abednego vir ons vertel as hulle vandag hier was? Dalk sou hulle sê: “Jy kan nie die vuuroonde van die lewe vermy nie, of voorspel wat die uitkoms gaan wees nie, maar jy kan die Een wat saam met jou deur die vlamme loop, ken en vertrou. Hy sal jou nooit verlaat nie. Onthou dit.”
Mag ons altyd onthou dít wat ons weet van ons Here, dít wat ons geleer het; en mag ons vertroue in Hom só wees dat die wêreld rondom ons nie anders sal kan as om in Hom en Hom alleen te glo nie!