Hoe goed ken jy vir God? (Siegfried Maré)
Hoe goed ken jy vir God? Die vraag kos bietjie kopkrap, nie so nie? Watter soort kennis word bedoel? Kan ek byvoorbeeld sê dat ek God ken wanneer ek die Bybel ken? Die soort kennis waaroor ‘n mens eksamen kan skryf, het gewoonlik met feite te doen. Die slim mense sê dat God Hom op twee maniere aan ons bekend maak. Die een is die Bybel – die spesifieke openbaring. Ons leer baie van God ken en kry baie inligting oor Sy persoonlikheid en karakter wanneer ons tyd in Sy Woord deurbring. Daar is egter ’n ander plek waar ons meer van God kan leer ken (hier praat die slim mense van die algemene openbaring) en dit is die natuur. God het alles gemaak. As jy na alles om jou kyk, sien jy ook die prentjie van ’n almagtige, groot, sterk, majestueuse, kleurvolle, soms snaakse, woeste, sagte, bo-menslik slim, kreatiewe en nog vele meer God? God is só groot dat ek Hom nie ten volle in my brein kan inpas nie. Ja, God is groter as die prentjie wat ek van Hom het.
Ons dien ’n wonderlike Here. Hy is voorwaar I AM. Daar is niemand soos Hy nie.
Dis ons God!
Die vraag is of ons Hom regtig ken. Woon Hy in ons?
2 Petrus 1 vers 1-9 is gevul met ‘n wonderlike belofte – as’t ware die sleutel tot die Lewe – hoe ware kennis van God ons storielyn radikaal verander.
Dink ‘n bietjie na oor die volgende…
Hoe goed ken jy vir God?
Wil jy Hom nog beter leer ken?
Hoe gaan jy dit regkry?