Jesus, ons sê net dankie… (Siegfried Maré)
John Henry Jowett het treffend gesê: “’n Lewe sonder dankbaarheid is sonder liefde en passie. Hoop sonder dankbaarheid kan nie ver sien nie. Geloof sonder dankbaarheid het ‘n gebrek aan krag en deursettingsvermoë. Enige iets wat geskei is van dankbaarheid is gewond en loop mank op die lewenspad verder.”
Iemand het eendag gesê, die gawe van dankbaarheid word deel van ons lewe wanneer ons ten volle besef wat God vir ons uit genade gedoen het en dit ons dryfkrag word om elke dag vanuit dankbaarheid te leef. Sjoe, dis mooi nê. Dankbaarheid is ‘n gawe. Dit is nie net die woordjie ‘dankie’ of mooi maniere nie. Dit is siel-sake. Dit is daardie diep ingesteldheid van vrede en vreugde teenoor die Here hier diep in ons binneste; omdat ons wéét wat Jesus vir ons gedoen het toe Hy in ons lewe ingestap het en ons oorweldig het met Sy goedheid. Dankbaarheid is om altyd te wéét dat Christus ons gered het toe ons nie redbaar was nie. Hy het ons in die donker opgespoor toe ons in ons sondes verdrink het. Dankbaarheid vloei voort uit hierdie wete dat ons nou en vir altyd aan die Here behoort. Dankbaarheid is om te wéét dat God die begin en die einde is en sonder Sy asem in my is ek niks meer as ’n stofkorreltjie nie.
Vader, help dat my lewe gekenmerk word deur dankbaarheid teenoor U. Want ek onthou…ek onthou waaruit U my kom red het, en wie ek deur U groot genade, IN U geword het.
Siegfried skop ons Desember preek-reeks af met sy boodskap, Jesus, ons sê net dankie…