My sonde en God (Siegfried Maré)
Sonde is ’n realiteit in ons elkeen se lewe. Sonde is alive and kicking en dit bly ’n stryd om staande te bly. Kom ons erken dit maar. Die sonde loop nog orals om ons rond. Om elke hoek en draai word ons gepeper en uitgelok om verkeerde dinge te doen. As ons regtig eerlik is met onsself, is daar maar baie kere wat ons buite die wil van God leef, al probeer ons hóé hard.
Toe Jesus op die aarde was, het Hy nie die sonde kom wegneem nie. Sonde bly die gevolg van vele menslike keuses. God het ons ’n verstand gegee om te kies. Dis juis die rede hoekom ons vir ’n tyd op die aarde is – om ’n keuse vir Jesus se verlossing te maak of daartéén te kies. En met dieselfde verstand kan ons vir of téén sonde kies. Dis jammer dat ons almal een of ander tyd verkeerd kies en in sonde verval.
Die gevolg van sonde is die dood. Dit is God se straf. As jy sondig, verdien jy om in die ewige vuur te brand.
Dankie tog vir God se liefde en dat dié prentjie nie vir Hom gewerk het nie. Hy kon dit nie oor Sy hart kry dat die een mens na die ander in sonde val en tot die dood toe veroordeel word nie. Daarom maak Hy ’n plan. ’n Plan wat vir die mens se verstand té groot is om te verstaan. Maar só lief het Hy ons…
Siegfried kyk na die realiteit van sonde, hoe dit ons verhouding met God beïnvloed, en hoe ons kan vrykom van ons sondes.