Die Plan (Siegfried Maré)
Saulus was ‘n man met ‘n plan. Dit was ‘n ambisieuse, vurige, fanatiese…en suksesvolle plan. Van die heel begin af, was Saulus op pad na bo, op pad na sukses. Hy het sy hele lewe beplan gehad en presies geweet waarheen hy op pad was. En niks sou hom stuit om hierdie lewensplan uit te voer nie. Ergste van alles, hy het regtig egtig geglo hy lewe die plan wat die Here vir hom gehad het, binne God se wil – dis nogal scary julle.
Maar toe loop Paulus hom vas in die Groot Planmaker, en al sy plannetjies wat hy so deursigtig en breedvoerig uitgewerk het, lê op ‘n hoop in ‘n stofpad. Die Here neem hierdie selfgemaakte, self-regerende, selfgerigte man en maak van hom ‘n skitterende voorbeeld van ‘n oorgegewe, ‘ek-lê-my-lewe-voor-die-Kruis-neer’, lewe. Paulus word een van die mees God-afhanklike, God-gevulde, God-geleide mense in die hele geskiedenis. En sy lewe word ‘n bloudruk vir almal wat die ten volle oorgegewe lewe kies.
Paulus het egter nie net holderstebolder begin om Jesus se Kruisplan uit te leef nie, al was sy lewe ten volle oorgegee. Nee, hy het eers baie, baie seker gemaak hy hoor sy Vader se hart reg, en lewe die Plan binne sy Vader se wil uit – veral omdat hy in sy vorige lewe die pot so vieslik misgesit het. Soos enige goeie plan was daar eers ‘n konsep, toe ‘n uitvoering, en ten einde ‘n resultaat. In Deel 4 van ons reeks kyk ons na Paulus se bloudruk wat vir ons stap vir stap wys hoe ons, wat die oorgegewe lewe kies, ook Jesus se Kruisplan moet uitleef.