Die Woord van God (Siegfried Maré)

Paulus noem homself ’n slaaf of ’n dienskneg van God.

In sy BC jare was hy dienskneg van ‘n ander baas. Paulus was verlore. Paulus was ’n slaaf van die bose en daardie baas was nie ’n goeie baas nie. Die baas het hom onderdruk, sy vrede en vreugde gesteel, en hom om die bos gelei. Dis wat die bose doen, vandag nog.

Gelukkig het Paulus homself letterlik in Jesus vasgeloop en het sy oë oopgegaan. En nou kan Paulus nie anders as om sy hele lewe aan God te wy nie. Uit dankbaarheid verklaar hy homself nou ’n dienskneg van God. Hy is so dankbaar vir wat Jesus vir hom kom doen het, dat hy nie anders kan as om alles te doen wat God van hom wil hê nie, en nog meer. Paulus spring uit sy vel, binne-in diens aan God.

Dis wat gebeur as jy in Jesus vasloop. Vrywillig gaan kniel jy voor Hom en word onderdanig aan Hom. Jy sit jou hele lewe, met alles wat jy het, in Sy hande en sê: Here, maak met my soos U wil.

Die boodskap is eenvoudig: As ek ’n kind van God is en Sy Waarhede verstaan, as ek verstaan waaruit Hy my gered het…wel, hoe dan nou anders; dan wíl ek mos niks anders as ‘n vreugdevolle dienskneg van God wees nie!

Noudat ons klaar deur Handelinge gestap het, begin ons reis deur Romeine. Kom kuier Sondae saam met ons soos ons die volgende ‘stretch’ van Paulus se Opstandingspad begin.