Paulus se pleidooi (Siegfried Maré)
Paulus het iets verstaan wat die mensdom – miskien jy en ek ook – baie keer sukkel om te verstaan. Paulus het die koste bereken en waarde aan alles gaan toevoeg en tot die slotsom gekom: om Christus as enigste bate te kan verkry het meer waarde as enige iets anders. Of hy lewe en of hy ter wille van sy geloof in Christus moet sterf, dit maak nie eintlik vir hom saak nie. Hy wil net seker maak dat Christus verheerlik sal word. (Fil 1:21)
Sukkel ons nie maar soms nog om by die punt te kom waar ons alles as waardeloos beskou in vergelyking met die voorreg om Jesus as ons Verlosser te ken nie? So baie dinge in en van die wêreld is net nog té belangrik. My tyd, my naam, my gemak, ambisie en wat ander van my dink, om net ‘n paar te noem? En mis ons nie sodoende uit op die volheid van dít wat Jesus ons bied nie?
Paulus het verstaan wat sainthood – heiligheid – behels. En daarom pleit hy ook by ons om die volle omvang van ons sainthood te verstaan – want hy wil nie hê ons moet dit mis nie. Dít is waaroor dit gaan. Om te lewe. Om ín Christus te lewe. Om vír Christus te lewe. En om op ons pad na heiligheid ander te help om nie uit te mis op dit wat die Here vir hulle het nie.