Sonder planne en sonder manne (Siegfried Maré)
In Rigters 6 is God se kinders diep in die moeilikheid. Hierdie keer is die Medianiete op hulle case. Vir 7 jaar lank word die Israeliete verpes deur die klomp barbare wat ’n vernietigende strategie gevolg het. Hulle het geplunder, afgebreek, aan die brand gesteek. Alles wat die Israeliete geplant het, het hulle verwoes voordat dit geoes kon word. Selfs die diere is geplunder en voor die voet doodgemaak. Dit was ‘n hopelose tyd in die Israeliete se geskiedenis. So begin die storie van Gideon se oorlog in hoofstuk 7 waar die Medianiete en Amalekiete met 135 000 manne gereed is om Israel aan te val en dood te maak.
En die ou wat die Israeliete in hierdie oorlog moet lei is ’n bangbroek. Hy kruip gedurig weg. Hy was onseker oor homself en onseker of die Here regtig by hulle is en onseker of die Here hulle kan help. Die Here moes al soveel tekens doen vir Gideon net om hom te oortuig dat Hy by hom is. As dit van Gideon afgehang het om hulle uit hierdie gemors te lei, was daar net een resultaat en dit was beslis nie oorwinning nie. Maar dan lees ons in vers 34: “En die Gees van die Here het vir Gideon vervul.”, en so daag Gideon en sy handjie vol manne op, sonder planne, maar met geloof en vertroue dat God vir hulle sal veg.
Sonder planne en sonder manne word Gideon ‘n instrument van oorwinning in die Almagtige hand van God. En, net soos die bang en tingerige Gideon stuur die Here ons die lewe in, die oorlogsveld in, miskien nie met al die planne en antwoorde nie, miskien met swak hande en stomp swaarde, maar met harte gevul met geloof in ‘n Almagtige God wat weer en weer vir ons sal veg!
In hierdie tweede deel oor ‘Geloof in aksie’ kyk Siegfried na hoe ons ook, soos Gideon, kan glo en opstaan en doen wat die Here sê, al voel ons soms soos die grootste bangbroeke.